Só het Franz Struwig, besturende direkteur van die Stellenbosse maatskappy iKubu, ’n veiligheidsproduk beskryf wat hulle pas vir fietsryers ontwerp het.

Die Backtracker is ’n radartoestel wat nie net vir fietsryers teen die spoed en afstand van aankomende verkeer van agter waarsku nie, maar ryers ook sigbaarder op die pad maak.

Die een deel van die toestel word op die fiets se handvatsels geïnstalleer en gebruik ’n radar om voertuie sowat 140 m agter die fiets te gewaar.

Liggies word dan gebruik om die fietsryer oor die voertuig se afstand en spoed in te lig.

Die groen liggie wys dat die voertuie agter die fiets op ’n veilige afstand is. Namate die voertuig naderkom, gaan ’n wit liggie aan. ’n Rooi liggie dui weer dat ’n voertuig teen ’n baie hoë spoed aangery kom.

Volgens Struwig word die ander deel van die toestel agter die fiets, onder die saal, geïnstalleer.

Dié toestel bevat liggies wat stadig flikker. Die liggies begin al hoe vinniger flikker namate die voertuig die fietsryer nader – wat die fietsryer vir die motoris sigbaarder maak.

“Fietsryers voel soms uitgelewer as hulle op openbare paaie ry. Ons wil die rit vir die fietsryer gemakliker maak, sonder dat hy homself hoef dood te bekommer oor wat agter hom aangaan,” verduidelik Struwig.

Die idee vir die Backtracker het in November 2010 ontstaan toe een van die kreatiewe ingenieurs by iKubu ’n fietsryer in Stellenbosch teëgekom het wat uit vrees vir die voertuie agter hom teen die aankomende verkeer gery het.

“Die Backtracker skep die gevoel van ’n sesde sintuig – die fietsryer voel in beheer. Dit is baie bruikbaar in stedelike gebiede en ook as fietsryers op die oop, stiller paaie oefen,” het hy verduidelik.

Besoek die webwerf ​www.backtracker.io vir meer inligting.